Feeds:
Bydraes
Kommentare

HAAR STORIE

Elke lewe begin skielik, met ‘n geboorte, eers net ‘n swanger ma en dan ewe skielik ‘n baba wat gil, huil en melk soek. ‘n Nuwe lewe meteens hier.

Net so skielik eindig die lewe. Nou hier, dan weg. Meteens, onomkeerbaar…

En met die skielike stilte, besef ek elke lewe vertel ‘n storie.

‘n Storielyn gevul met ops en afs, met verwikkelinge en ontknopings, en met verskeie kante. Elke storie kan verskillend vertel word. Soos die Evangelies, vier verskillende aspekte van die Jesus storie. Elkeen opreg, elkeen waar en tog elkeen anders.

Net so dink ons vandag terug aan my ma en haar storie.

Ons kan kies om haar storie te vertel as een van swaer kry. Van verwerping uit die kerk waarin sy groot geword en gearbei het.
Van hartseer toe sy haar 14 jarige oue seun moes begrawe.
Van stoei finansieel met ‘n bankrotskap en dinge wat net nooit weer mooi wou reg loop nie.
Van ‘n tweede huis verloor oor sy en pa so onskuldig, geloof in alle mense plaas.

Daar kan selfs ‘n hoofstuk geskryf word oor die meer as 20 reise om te gaan werk in ‘n koue nat Ierland net om kop bo water te hou. Baie van daardie trips vrou alleen.

En ons kan boeke skryf oor die sukkel me pa se depressie, met sy hartaanvalle en sy gesondheid. Oor die sorg wat sy moes gee. Nog ‘n episode miskien oor ek en Louise wat oorsee getrek het, weg van haar af.

En dan die pyn wat sy as ma gehad het oor Hanri, haar enigste dogter wat so graag ‘n kind wou hê, maar nie kon swanger raak nie.

Een van die min kere wat ek haar sien huil het na Hansie se dood, was toe sy my vertel het oor haar swaarkry oor Hanna se kinderloosheid. Die groot hartseer het sy dit genoem.

Mens sou ‘n “season finale” kon maak uit haar liggaam wat begin oppak het. ‘n Rug operasie agter die blad en ‘n fusie wat oor ‘n week sou plaasvind. ‘n Heup wat so seer was dat sy soms net sou stilstaan vir ‘n oomblik en dan aangaan. ‘n been wat so seer was dat sy hom amper begin sleep het, soveel so dat Anja vir ouma begin na-aap het. En mens sou die titel rol laat begin loop soos wat mens vir die kykers wys hoe sy uiteindelik aan ‘n maagbloeding ontkom, ‘n uitkom kans uit ‘n finansiële onvolhoubare situasie.

Maar dis nie die storie wat ek van ma onthou nie. En ek dink nie dis die storie wat sy van haar eie lewe sou vertel nie. Nee.

Alhoewel die feite van sekere situasies soos die eerste storie lyk was die uitleef daarvan baie anders.

Haar storie was een waar sy die man van haar drome ontmoet het op haar 17de verjaardag en 4 jaar later getrou het.

Waar sy self gedink het sy sou kinderloos wees maar binne een jaar twee kindertjies gekry het. En om dit te kroon sewe jaar later, kort op mekaar se hakke nog twee ryker geword het.

‘n Storie waar sy haar oorvloed gedeel het. Waar sy en pa boemelaars gehuisves het in Klerskdorp.

Dis ‘n storie van avontuur waar hulle in 1982 ‘n studente gemeente in Potch begin het, kerk gebou en lewens verander het. ‘n Avontuur waar die gesin in Amerika gaan woon het vir ‘n jaar en sy kon huis vrou speel. Waar ons as gesin saam in daai groen “camper van” die wêreld ontdek het.

En toe die bederf toe sy en pa ‘n jaar later vir 6 weke kon terug gaan en die Amerikaanse wes kus kon verken.

Nog ‘n avontuur, toe die gesin Centurion toe getrek het en sy weer haar eie praktyk op die been bring het. Sy het hard gewerk maar sy het haar werk geniet want sy was van kop tot tone ‘n versorger.

En met al die teëspoed van die 90’s het sy en pa net nader en nader aan mekaar gegroei. Hulle het saam opgestaan, saam gaan werk in die praktyk, en in die aande, moeg, saam huis toe gekom.

En toe pa se siektes begin het in die 2000’s sou sy die storie vertel van hoe sy ‘n “stay at home husband” gekry het wat haar op sy hande gedra het.

Hoe sy in ‘n huwelik van meer as 46 jaar elk oggend met ‘n koppie tee, gebrou presies soos sy daarvan hou, in die bed wakker geword het. En toe pa minder begin werk het, hoe die kwaliteit van die diens toegeneem het. Elke oggend ‘n bad water getap vir haar, die kar gaan start, en in die winter die ys van die voorruit af gekrap.

In die aande as sy van die werk af kom, by die tuin hekkie wag vir haar, kos reeds gemaak.

In haar avontuur het sy na ‘n kleurvolle groen Ierland besoek met ‘n Bybel in die hand en nog 5 in die tas… …om vir ander van haar, haar Here en haar storie te vertel.

Sy sou vertel van die avontuurlustige pad wat sy gestap het in haar geloofslewe, van Hervormde predikantsdogter, predikantsvrou, haar groot doop, “outcast” in ‘n “happy clappy” kerk, maar ook van haar versoening met die Hervormde kerk en die vrede wat vergewing bring.

‘n Vrou van staal, wat toe die deur in Ierland toe gaan haar hand na ander geleenthede gedraai het. Toe word die GP ‘n “beautician”, “Botox van” en al. Baie van ons hier was op een of ander stadium haar proef konyne met ‘n bottel Botox wat verval datum se kant toe gestaan het.

Sy sou vertel van haar sin vir humor, hoe sy met haar skoondogters en haar susters kon giggel.

Sy sou vertel hoe die avontuur hulle geneem het Nieu Seeland toe. Sy sou vertel van nuwe mense ontmoet, van Roterua en “hot water beach”. Van haar en pa se tweede “honey moon”.

Ma en pa se tweede honey moon

Ma en pa se tweede honey moon

Sy sou vertel van die voorreg om haar klein kinders te sien, en die vreugde toe Hanri uiteindelik ‘n baba in haar arms vasgehou het!

Maar bo dit als sou die “highlight” van haar storie wees hoe sy kon oudword met die man van haar drome. Want sien….. haar storie was hulle storie. Die twee steenbokkies.

Sy was die dapperste, eerbaarste, sterkste mens wat ek ooit geken het. Daar was geen berg te groot of kloof te diep nie. Sy het ‘n ondeunde streek in haar gehad, “game” vir alles, bang vir niks,

…nee.. , bang vir een ding. Een ding wat sy nie voor kans gesien het nie. Een ding. En dit was om soos haar ma, ouma Joyce vir dekades lank weduwee te wees. Die steenbokkie het nie kans gesien vir alleen agterbly nie.

En in die avontuur wat sy geleef het, was dit die een “battle” wat sy gespaar is.

Sy is huis toe met ‘n leë spaarrekening, en met pyn in haar lyf. Maar sy is huis toe in vrede, met ‘n hart oorlopens toe vol van liefde en met die man van haar drome aan haar sy.

Dis haar storie, hoe ek dink sy dit sou vertel, die weergawe wat ek kies om te onthou.

DEUR TIAAN DREYER

Advertisements

Mooiste  eg paartjie Toe word sy 60! DSC_8926 Haar Familie Ma en Dogter Ma en Dogters Ma en Kinders Drie Susters My Liewe Man
Ma en Sarah

Op jou 17de verjaarsdag het ons mekaar ontmoet. Ek was dadelik smoor verlief. 4 jaar later het ons getrou en na 46 jaar was ons steeds verlief soos studente.
Dit was ‘n voorreg om my lewe met jou te deel, ‘n voorreg waarvoor ek God dank.
Liefde jou Man.

My ma en beste vriendin, hoe skielik is ma weg! Ek kan dit amper nie glo nie! Ek kan net bid dat ek so ń goeie ma vir Anja sal wees soos wat ma vir my was. Ons gaan Ma vreeslik baie mis, Anja vra alreeds waar ouma Mariëtta is!
Ek is baie lief vir ma, en wens ek kon ma nog net een keer vashou en sê ek is lief vir ma, Hanri.

Ma het altyd vir my gesê:
Hy sal vir jou ń Vader wees en jy vir Hom ń seun… en tog weet ek ook dat Hy vir Ma ń Vader is en Ma vir Hom ń Dogter… Dankie Ma dat Ma die wonderlikste ma in die lewe vir my was… wonderlikste vir Sarah ook.
Ek gaan Ma baie mis.
Liefde Tom

I thank God for He has blessed me with an awesome mother in-law for the past four years. I truly count myself the most blessed of all daughters in law. We will miss her but will also cherish her memory and will continue to celebrate all the goodness and love she has spread into the lives of others.
“Precious in the sight of the Lord is the death of His saints” (Psalm 116:15).
Love Sarah.

My liefste sussie Jy was by toe my lewe begin het en toe is ek te laat toe jou lewe eindig om dankie te se en vir jou n drukkie te gee. Ek onthou duideliker as alles jou hande. Sagte hande wat kon troos en dokter en tog ook so kon raakvat. Daar is ‘n skat van onthou-stories wat my deur baie donker dae sal dra. Die kosbaarste daarvan is ons om die tafel gesprekke in Potch oor geloof en ‘n dieper ervaring van God. Daan het oomblikke na jou dood ‘n troos-skrif gekry: Lukas 13:12. (In Engels) ” Woman, you are loosed from your infirmity”. Sus, God het jou nie net verlos van die aaklige pyn wat jy verduur het nie. Hy het jou kom haal sodat jy nooit weer enige seer of smart sal ervaar nie. En ons wat nog hier bly is dankbaar dat ons nie n veraf onbewoe God dien nie maar n Vader wat ons broosheid met Sy allesdeurdringende krag omvou. Tot ons mekaar weer sien…. Christine.

* * *